OLA

Afrigter se Kolom
Ons het hierdie week besluit om dit rustiger te neem, ons spelers ‘n ruskans te gee en hulle weg te hou van al die opwinding in die media rondom die bereiking van ‘n tweede finaal in 2010. Ons besef die belangrikheid dat die span fisies en geestelik uitgerus moet wees vir die reis na Durban en die uitdaging van ‘n moeilike finaal weg. Ons as afrigtingspan het die tyd gebruik om analitiese werk in diepte te doen sodat ons voorbereid is wat op ons wag. Die span keer vandag terug vir ‘n paar ligte sessies, maar die eintlike voorbereiding – op en van die veld af – begin Maandag in alle erns.

Met ‘n finaal kry jy net een kans om te bewys dat jy die beste is. Dit was lekker om die Haaie op Nuweland te klop, maar dis nou ‘n volgende wedstryd en dis in die Haaitenk. Dis heel anders en ons is bewus daarvan. Die span wat die druk die beste kan verwerk, hul kanse benut en dit meer wil hê, sal op die end as wenners uit die stryd tree.

Die Haaie is ‘n baie goeie span met min gebreke. Hulle beskik oor ‘n groot en fisiese pak voorspelers en is baie kompeterend by die afbreekpunte. Hulle vaste fasette van die spel is baie goed en hulle agterspelers hou daarvan hou om met die bal te hardloop. Ons sal beslis na ‘n hoër rat moet oorskakel om hulle in Durban te klop. Hierdie WP span het egter ‘n lang pad gekom en hul vermoë om as ‘n eenheid te speel, tel in hul guns en is ‘n sterkpunt. Dit help ons dat ons reeds in ‘n Super 14 finaal hierdie jaar gespeel het. Die span is honger en beslis meer uitgeslape en in my opinie reg vir dit wat wag. Ons verdedigingspatrone was uitstekend hierdie jaar en ons probeer nog steeds daarop verbeter. Ons voorspelers het met die bestes gekompeteer. Op die aanval beskik ons oor ervare en talentvolle hardlopers wat ons sal gebruik wanneer die geleenthede daar is. Alles kom neer op hierdie een wedstryd en wie hul kanse die beste gaan gebruik.

Dit is nie net die senior span wat volgende week in ‘n finaal speel nie. Ons O19 en O21 spanne het beide die eer. Ons beleid en strukture rondom jeugontwikkeling het ‘n belangrike deel van ons strategie gevorm en dit is verblydend om te sien dat dit reeds resultate oplewer in al die ouderdomsgroepe. Rugby is in ‘n gesonde toestand in hierdie provinsie. Dis nou tyd om die finaal te wen!

Dankie vir jul ondersteuning en boodskappe van aanmoediging – julle is die rede wat die WP so spesiaal maak.

Jul afrigter
Allister Coetzee

<<terug


twitterLeft-(1).jpg
FbLeft-(1).jpg
Add to Facebook Add to Twitter